Grondeise / Restitusie-eise
EnglishENWet op Herstel van Grondregte, Wet 22/1994, die Restitusiewet.
Die Restitusiewet het soms sekere raakpunte met ander wetgewing wat in ag geneem moet word. Bv. met die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg – verblyfregtewet (afgekort as "Esta") – wat okkupasieregte op plase reël. Voor die koop of verkoop van moontlik geraakte grond beveel ons sterk 'n omvattende grondregte-oudit aan.
Die Kriteria of 'n Restitusie-eis Geldig is of Nie
- Is die eiser 'n persoon of gemeenskap ('n familie kwalifiseer nie)? Dit moet 'n bona fide-gemeenskap wees wat op datum van onteiening bestaan het. Nie 'n nuutgevormde of verdigte gemeenskap nie.
- Het die eiser "regte in grond" gehad? 'n "Reg in grond" is 'n breë konsep en word gewoonlik NIE deur 'n titelakte bepaal nie. Met ander woorde, dit is ongeregistreerde "regte" en kan insluit: • die regte van 'n deelsaaier • regte van 'n huurarbeider • 'n gewoonteregtelike belang • as begunstigde onder 'n trustooreenkoms • voordelige besetting vir 'n aaneenlopende tydperk van 10 jaar of meer.
- "Onteiening" is nie net 'n formele uitsetting van 'n persoon of gemeenskap deur een of ander staatsliggaam nie. Onteiening is 'n breë konsep en sluit ook 'n afgradering van regte in.
- Die "onteiening" moes op grond van rasgebaseerde wetgewing of praktyke plaasgevind het. As die persoon onteien is omdat 'n dam gebou moes word, byvoorbeeld, is dit nie rasgebaseerd nie.
- Die reg in grond moes tussen 19 Junie 1913 en 1994 onteien gewees het.
- Die eiser(s) moet al bogenoemde 5 kriteria op 'n oorwig van waarskynlikheid bewys om met hul eis te slaag.
- Moes 'n eis voor 31 Desember 1998 (1ste groep eise) ingedien het, of tussen Junie 2014 en Julie 2016 (2de groep eise).
- Die 1ste groep eise moet eers afgehandel word voordat die 2de groep eise hanteer kan word ingevolge 'n beslissing van die Konstitusionele Hof.
- Eise sal waarskynlik heropen word.
'n Restitusie-eis Verloop Min of Meer soos Volg
Indiening van Eis en Ondersoek
- 'n Eisvorm word deur die kommissie ontvang. 'n Eisnommer word toegeken.
- Verifikasie (van die eisvorm) word gedoen om te bepaal of die eis regtens geldig is, d.w.s. of voldoende inligting in die eisvorm vermeld word om 'n geldige eis te vestig indien dit bewys word. Indien nie, word verdere dokumente/inligting van eisers aangevra.
- Dit is die Kommissie se statutêre plig om eisers by te staan met die ondersoek en hantering van die eis – op belastingbetalers se onkoste.
- Slegs eise wat duidelik en ooglopend ongeldig is, word verwerp. Geringe gebreke in die eis of eisvorm word deur die kommissaris reggestel en/of verskoon. Die eis mag egter nie uitgebrei word nie.
- Verdere ondersoek na die meriete van die eis word gedoen om te bepaal of die eis aan die vereistes van die Wet voldoen – artikel 2. Die Kommissie se ondersoeke is dikwels uiters gebrekkig.
- 'n Waardasie van die geëiste grond word gedoen – dikwels voortydig aangesien die meriete van die eis nog betwis kan word.
Kennisgewing aan Belanghebbendes en Onderhandelinge
- Kennisgewing in Staatskoerant – in leketerme bekend as "gazette".
- Huidige eienaar en ander belanghebbendes moet van die eis in kennis gestel word – gebeur nie altyd nie.
- Eienaars/ander belanghebbendes moet formeel aandui of die eis erken of teengestaan word.
- Verslag word deur die Kommissie aan die eiser gedoen oor vordering met die eis en die eiser(s) moet op hierdie stadium aandui of hulle die geëiste grond wil hê of alternatiewe grond, of met geld vergoed wil word – vergoeding (belastingbetaler betaal) of 'n kombinasie van bogenoemde 3 moontlikhede.
Grondeienaar Kan Geldigheid Erken of Eis Teenstaan
- Eis teenstaan – maak vertoë en probeer die Kommissie/eisers oortuig om die eis terug te trek of, indien die eis geldig is, nie die geëiste grond te eis nie en eerder vergoeding of alternatiewe grond te aanvaar. Waar die partye gewillig is, word bemiddeling dikwels gebruik om die saak te skik voordat die Grondhof genader word. As vertoë misluk en 'n dooiepunt in die onderhandelinge bereik word, moet die Kommissie 'n sertifikaat uitreik en die eis na die Grondhof verwys vir beregting, waar ons spesialis-grondlitigasie-verteenwoordiging bied. Dan volg 'n verhoor in die Grondhof.
- Eis erken – indien die eis deur die grondeienaar erken word, is die volgende logiese stap om 'n aankoop te onderhandel of onteien te word. Die grond word dan gekoop of onteien en aan die staat of die eisers oorgedra.
Moontlike Uitkomste
Eise kan op een van die volgende 4 maniere geskik word, maar slegs indien die eis geldig bevind word:
- Kommissie (Staat) koop die grond van die grondeienaar teen ooreengekome prys & as hulle nie op 'n prys kan ooreenkom nie, verwys na die hof vir bepaling van die prys.
- Eisers word in kontant deur die staat (belastingbetalersgeld) vergoed – d.w.s. die grondeienaar behou sy grond alhoewel die eis geldig is.
- Eisers ontvang alternatiewe grond indien die eisers daartoe instem of indien dit deur die hof beveel word – d.w.s. die grondeienaar behou sy grond alhoewel die eis geldig is.
- Eiser kry 'n kombinasie van bogenoemde – d.w.s. selfs al is die eis geldig, behou die grondeienaar sy grond (behalwe vir die deel wat aan eisers toegeken word).
Indien eisers die geëiste grond wil hê, vind onderhandelinge plaas tussen die Kommissie en die grondeienaar met die doel om die grond vir die eisers te bekom.
Dit gebeur dikwels dat restitusie-eise op stedelike grond ingestel word. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat die hof stedelike grond aan 'n eiser sal restitueer wat reeds dig ontwikkel en bewoon is. Die prys om hierdie digbewoonde grond te bekom is ook veel te hoog om dit ekonomies te kan restitueer. In hierdie geval sal die kommissie en die hof eerder vergoeding of alternatiewe grond aan die eiser(s) gee. Stedelike grondeienaars moet egter steeds die eis teenstaan.
As die Eis in die Staatskoerant Gepubliseer Word
Het dit die volgende gevolge:
- Die Grondeisekommissaris moet die eienaar en ander belanghebbendes in die grond kennis gee van die eis. Dit gebeur nie altyd nie.
- Die betrokke grond mag verkoop, geruil, geskenk, verhuur, onderverdeel, ontwikkel, hersoneer word, maar slegs nadat die Kommissaris een maand se skriftelike kennisgewing gegee is. Dit is nie om toestemming te vra nie, net om kennis te gee.
- Geen persoon mag sonder die skriftelike toestemming van die Hoofgrondeisekommissaris enige verbeterings van die grond verwyder of laat verwyder, vernietig of beskadig nie, behalwe in die gewone loop van besigheid. Andersins moet slegs kennis daarvan aan die Kommissie gegee word.
- Geen eiser of ander persoon mag die grond betree en beset sonder die skriftelike toestemming van die eienaar of regmatige besetter nie.
- 'n Persoon wat deur die publikasie van 'n grondeis geraak word, mag vertoë aan die kommissaris rig vir terugtrekking of wysiging van die eis.
Wie is die Betrokke Instellings?
- Die administratiewe proses, insluitend die ondersoek van die eise, word hanteer deur die Kommissie op die Herstel van Grondregte – hierna verwys as "die kommissie". Die kommissie is 'n onderafdeling van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling ("DALRRD") en het sy eie prosedures, personeel, begroting, kantore, ens.
- Die betrokke hof is die Grondeisehof (hernoem na die Grondhof in 2025), wat in Randburg gebaseer is. Die Grondhof het jurisdiksie oor Suid-Afrika en hanteer nie net restitusie-eise nie, maar ook huurarbeidereise en verblyfregte.
- Die Grondhof bepaal die geldigheid van eise – nie die Kommissie nie.
- Grondhofprosedures verskil in sekere opsigte van ander howe se prosedures, maar die dispuut moet ook deur 'n verhoor/getuienis gaan soos enige ander regsgeding.
Kontak Van Dyk · Theron Prokureurs indien u enige verdere vrae het: